Dozi

Henk, die jongste kind van Theuns en Susan Opperman, is gebore in Hluhluwe, waar hy vlot Zoeloe leer praat het by sy Zoeloe maatjies op die plaas. Op 6-jarige ouderdom het hul verhuis na ‘n plaas naby Standerton. Vanaf 12-jarige ouderdom het hy reeds begin optree en kitaarspeel.

Nadat hy sy diensplig voltooi het, studeer hy grafiese ontwerp aan die Technikon Pretoria. Hy het saans by restaurante en funksies opgetree en eers in die vroeë oggendure gaan slaap. Dis dan ook hier waar hy die bynaam Dozi kry, omdat hy baie lief was vir slaap. Hy sluit daarna aan by die polisie orkes onder leiding van Hansie Roodt en omdat daar nog nooit enige ander loopbaan vir hom was as om musiek te maak nie, word sy eerste album uitgereik in 1999. Dié album, getiteld Mercy, is ‘n geestelike Zoeloe album en het ‘n SAMA nominasie vir Beste Nuwe Kunstenaar ontvang. Hy het veral bekendheid verwerf in Noot vir Noot, sy eie program, Kom ‘n Bietjie Binne asook as afrigter in twee seisoene van die realiteitsprogram, Supersterre. In 2000 word sy eerste Afrikaanse album, Op Aanvraag, uitgereik. Dit is ‘n treffer en meer as 100 000 kopieë word verkoop wat die album dubbel platinum status laat bereik. Sy volgende album, Storm op die Horison, is vrygestel in Desember 2001 en het ook reeds platinum status bereik. In Februarie 2003, word Siyaya – Ons Gaan … uitgereik. Die album bereik goue status binne een maand vanaf uitreiking. Dozi het platinum toekennings vir beide Storm op die Horison en Siyaya ontvang by Aardklop 2003 op Potchefstroom. In 2003 sien Rockin’ the world die lig op die aandrang van ondersteuners, wie altyd na Dozi gaan luister het toe hy as student by verskeie restaurante opgetree het.

Gedurende die 2004 KKNK het Dozi, behalwe vir sy gewone optredes, ook opgetree saam met Jannie Moolman en die Afrika Mamas. Die produksie het ‘n Kanna toekenning gewen vir die gewildste produksie by die Fees. Dozi se DVD, Dozi Live in the Rendezvous, is in dieselfde jaar vrygestel asook sy nuwe Afrikaanse album, Kruispad.

Met sy agtiende album, getiteld Hande vol Genade , keer Dozi terug na sy wortels. Dit is ‘n gestroopte Afrikaanse album wat skitter van die akoestiese sjarme en ‘n rou eerlikheid wat die fokus opnuut op Dozi se meesleurende stem plaas. Hy het sy eie kuierplek, Back to the roots, in Hartbeespoort, waar verskeie gewilde kunstenaars optree.

Dozi is geliefd oor kultuurgrense en glo daaraan om elke dag as musikant te groei en te ontwikkel en gaan sy talent deel by Vollebors in Afrikaans met Ou Ryperd en Grassade.ozi

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*