Con Grazia

Anders, dinamies, veelsydig, grasieus en elegant. Dit is die stempel van die trio Con Grazia! Dié -susterstrio – Marchelle, Syntiche en Sharon – se vaardigheid het al op driejarige ouderdom begin toe hulle hul harmonieuse styl begin blink slyp het.

Die susters se inspirasie en aanmoediging het by hul ma, Priscilla, ‘n musiekonderwyseres, begin en hulle het gereeld as ‘n familie saam met pa en ma in kerke opgetree. Con Grazia is ‘n Italiaanse musiekterm vir “elegant & grasieus” en word uitgespreek: “Con Gratsia”.

Hul musikale vaardigheid en vernuf spruit uit hul kwalifikasies: Bmus-grade, musiekteater, spesialislisen-
siate en internasionale opleiding aan onder meer UNISA, die Trinity College of Music en die Royal Schools of Music in Londen. Hulle was onder meer lede van die Pro Musica-orkes, die Johannesburgse Simfonieorkes, die Oos-Randse Jeugkoor, as soliste saam met die Nasionale Simfonie-orkes en die Orchestre Supérieur de Versailles in Frankryk.

As wenners van die ATKV se Prelude-musiekkompetisie én die ABSA Nasionale Musiek-kompetisie en internasionale erkenning is Con Grazia die vergestalting van professionele suiwerheid met ‘n passie vir hul nering.
Hul musikale veelsydigheid blink in die genres klassieke, ligte klassieke style, kontemporêre musiek, versnit met Latynse, Afrika-, jazz- en gospelinvloede. Hul musikaliteit en vokale vaardigheid word gekomplementeer deur die viool, elektriese viool, fluit, sopraan– en altsaxofoon.

Hul optredes word gekenmerk aan vertolkingswier. Dié gehalte is al by spoggeleenthede in Suid-Afrika, Dubai, Abu Dhabi, Frankryk, die Seychelle, België, Holland en Engeland ten toon gestel.

Nou kan musiekliefhebbers in hul ontroerende talent deel, danksy Vollebors in Afrikaans.

Con Grazia – is gestempel met orkestrale grootsheid en ‘n Afrikaanse kontemporêre gevoel. Die skoonheid en opwinding van die liefde word in die snitte Vlerke van liefde, Jy’s die een, Kom ons dans, Vier seisoene, Wees net myne, Die gejaag na wind, Ware liefde, Groter as liefde, Val Die Vie, Kosmos en drie instrumentale werke Song For You (gekomponeer deur Syntiche Claassen en Johan Kelber) en verwerkings van Hungarian Dance en Elvira Madigan verklank – romanties in ‘n geurige ruiker gerangskik.

Ervaar stylvolle musikale elegansie en ‘n tikkie briljansie! Dit is wat Con Grazia bied!

1 Comment

  1. Mooi so Con Grazia. Ons sien julle op 23 Mei saam met al die ander wonderlike Kunstenaars by Sun Arena. Wees trots op Vonk met Vollebors Afrikaans. Ons weet dit gaan n Optrede wees met groot sukses. TROTS OP JULLE ALMAL.

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*