Jan Rhaap

Gebore en getoë in Pretoria, het Jan Rhaap ná matriek sy BSc (Agric) graad verkry in Veekunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy was werksaam in die landboubedryf tot 2012, waarna hy voltyds begin fokus het op sy musiekloopbaan. In 2014 is hy geteken by Vonk Musiek en stel sy eerste album, Laaste Kans, later daardie jaar vry. Vir dié album is hy vir ‘n Ghoema benoem in 2015 vir Nuweling van die Jaar.

In 2016 is sy tweede album, Opge-Rhaap, vrygestel en is in 2017 benoem vir Beste alternatiewe album van die jaar”. Sy derde album, Wat is mens, het in 2018 die lig gesien. Hierdie plaasseun raak jou hart met sy sterk stem, eerlike lirieke, goeie verwerkings en oorspronklike liedjies. Hy het die vermoë om jou nostalgies te laat word met sy liedjies wat jy om ‘n vuur na kan luister met net ‘n kitaar. Jy voel die liefde en verlange.

Jan skryf die meeste van die liedjies op sy albums en het onder meer al saam met Juan Boucher, Johan Vorster en Appel (Christof Kotze) geskryf.

In 2014 het hy verhuis na die Noord-Kaap waar hy aangesluit het by hul familieboerdery net buite Niekerkshoop. Hy voel baie bevoorreg om daar te kan bly saam met sy pragtige vrou, Nadia en hul seuntjie Chris-John. Hy sien homself as ‘n voltydse sanger en liedjieskrywer wat met vee boer wanneer hy nie op die verhoog is nie.

By Vollebors in Afrikaans gaan hy die gehoor vermaak met Ramskilpad en Huisie in die bos wat hy saam met Juan Boucher gaan sing.

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*