Rina Hugo

Rina Hugo is sonder twyfel een van Suid-Afrika se gewildste sangeresse. Dit is reeds meer as vier dekades sedert die uitreiking van haar debuutalbum en steeds is sy een van Suid-Afrika se mees geliefde sangers. Dié ‘n klassiek-opgeleide sangeres het haar meestersgraad in sang aan die New England Conservatory of Music in Boston VSA in 1975 behaal. Daarna was sy vir vier jaar ‘n sangdosent aan die Noord-Wes Universiteit, waar sy Suid-Afrika verteenwoordig het in die 8ste Internationale Sangkompetisie in Rio de Janeiro.

Dit was danksy haar ewe bekende musikantman, Johan van Rensburg, se aanmoediging dat Rina uiteindelik ʼn loopbaan in ligte musiek aangedurf het. Sy het in 1978 ingeskryf vir die ATKV Crescendo-sangkompetisie en dit gewen. Vier jaar later het sy ‘n album opgeneem wat sy vertel sy net vir die lekker gedoen het sonder enige verwagting dat die publiek so baie daarvan sal hou en dit boonop goue status verwerf het nie. Rina het tot in 1993 professioneel opera gesing, maar daarna besluit om haar op ligte musiek toe te spits.

Hoofrolle wat sy vertolk het sluit in o.a Die Towerfluit, Der Freischutz, Falstaff, Die Huwelik van Figaro, Cosi fan Tutte, The Sound of Music en The Student Prince. Sy het Suid-Afrika twee keer op die Vlaamse Nasionale Sangfees in België verteenwoordig.

Haar talent oorspan feitlik alle genres wat deur ‘n solis beoefen kan word naamlik: opera, oratorium, operette, musiekblyspele, die kunslied en ligte musiek.

In haar suksesvolle loopbaan is haar albums talle kere met goue en platinum status bekroon, sy het talle eerbewyse ontvang, belangrike musiekpryse gewen en is telkens as die gewildste sangeres in die land aangewys.

Rina en Johan het ‘n paar jaar gelede afgetree, maar Rina sê sy sal waarskynlik nie sommer ophou sing nie. As sy nie sing nie, raak sy depressief en dit hou beslis haar brein aan die gang. Haar jongste album heet Sy naam is Jesu en Johan het baie van die verwerkings van die musiek op die album gedoen.

Vollebors:

By Vollebors in Afrikaans sal sy die gehoor betower met Hoor jy my stem oor die see en in duet met Oberammergau saam met Sonja Heroldt.

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*