Gerhard Steyn

Ons het met hom kennis gemaak toe Baby Tjoklits die klankgolwe getref het. Daarna het liedjies soos Breekbaar, Parfuum, Jy’s My Hartklop, Dimpels en Diamante vir Jou oor die jare heen gevolg en seker gemaak dat sanger-liedjieskrywer Gerhard Steyn geen bekendstelling meer nodig het nie.

Vir elk van Gerhard se aanhangers sal dié liedjies ’n móét wees, Te midde van die musiekbedryf wat alewig verander en sodoende groter uitdagings stel, is dit nodig dat kunstenaars meer innoverend moet wees, meen Gerhard. “’n Mens besef dat jy dinge op ’n ander manier moet doen en méér moet doen. In plaas daarvan om bloot die trends te volg, moet jy nuwes stel.” En dít is juis wat Gerhard met sy musiek doen. Die lied, Afrikaanse Meisies, is ’n uitstekende voorbeeld daarvan. “Iemand kon seker lank terug al ’n liedjie soos Afrikaanse Meisies uitgereik het. Dis nie ’n moeilike konsep nie, maar om dit op dié manier te doen waarop ek dit gedoen het is wat dit anders maak. Dis op ’n nice en classy manier gedoen. Ek moes die konsep tot ’n diamant slyp.” Die musiekvideo van hierdie polsende, moderne country-lied is op YouTube te sien.

Een van die mees emosionele snitte is My Ma Se Woorde, vertel Gerhard. “Ek het nog nooit vir my ma ’n lied geskryf nie en wou graag. Sy was onlangs baie siek, soveel so dat sy in intensief opgeneem was. Hoewel sy mooi herstel het, het die hele situasie my geruk. Die vreemde ding is dat ek die lied sowat ’n week voordat sy in die hospitaal beland het, geskryf het.”

In Gerhard Steyn se loopbaan het hy skaars juwele tot die skatkis van Afrikaanse musiek gevoeg en ’n enorme hoeveelheid musiekliefhebbers se harte in die proses gewen. Hy het die suksesleer geklim en vandag is hy aan die bopunt met rede, tog sal hy altyd erkenning aan sy Skepper gee sowel as diegene wat sy musiek ondersteun. Dit was voorwaar ’n dekade van vele hoogtepunte vir die platinumbekroonde sanger.

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*