Sonja Herholdt

Vandat Sonja Herholdt op die Suid-Afrikaanse musiekfront haar verskyning gemaak het, is daar geen keer aan haar nie en byna nie ‘n ledige jaar nie. Sy was reeds op die verhoog op 3-jarige ouderdom met die liedjie ‘Slaap my Kindjie’, waar haar sangonderwyseres ma haar begelei het.

Ná skool het sy aan die Goudstadse Onderwyskollege studeer, waar sy haar onderwysdiploma cum laude behaal het en die Voortrekker Perstrofee as Student van die Jaar in haar finale jaar verower. Gedurende haar studies ontmoet sy ‘n dosent, FC Hamman. Hy het vryskut rolprentwerk gedoen vir die rolprent, Sarah. In dié tyd hoor Sonja die liedjie ‘Ek verlang na Jou’, sy ding dit vir FC en hy verwerk dit vir die rolprent. Sonja het die liedjie opgeneem en sodoende begin haar suksesvolle sangloopbaan.

1975 – Sonja word bekroom met ‘n SARIE-toekenning (South African Recording Industry) as Beste Sangeres. Sy ontvang ook haar eerste goue plaattoekenning. 1976: Haar eerste langspeelplaat, ‘Sonja’, word uitgereik, waarvoor sy die SARIE-toekenning vir Beste Langspeler van die Jaar en ook ‘n tweede SARIE in die kategorie Beste Sangeres ontvang. 1977: Sonja word as Beste Sangeres bekroon met haar tweede langspeler ‘Sonja Herholdt’. 1978: Sy ontvang vir die vierde agtereenvolgende jaar die SARIE-toekenning as Beste Sangeres vir haar solosewe ‘Die Trein na Matjiesfontein’. 1979: Sy word weereens aangewys is as Suid-Afrika se gewildste sangeres en in 1980 stap Sonja vir die sesde keer met die gesogte SARIE-toekenning weg as Gewildste Sangeres. Hiermee verdien sy vir haarself ‘n ereplek in die geskiedenis van Afrikaanse musiek deurdat sy die enigste sangeres is wat ses keer na mekaar die SARIE toekenning inpalm vir dieselfde kategorie.

Haar sukses word dubbel en dwars bekroon deurdat haar langspeler ‘Harlekyn’ aangewys word as Langspeler van die Jaar. Sonja het ook die Papillon Rising Star Award as een van die agt top vroue in Suid-Afrika wat groot sukses behaal – elk op hul eie gebied, ontvang. In 1979 het sy op die plaaslike silwerdoek verskyn in ‘Sing vir die Harlekyn’ waarvoor sy in 1980 die Rapport Oscar as Beste Nuweling Aktrise ontvang.

Sonja is die eerste Suid-Afrikaanse sangeres wat genooi word om in Hilversum, Nederland, televisie-opnames te maak vir die Nederlandse Televisiediens. Terwyl sy daar is neem sy ‘Oberammergau’ in Hollands op. Die plaat is daar vrygestel en haal die Hollandse treffersparade. Sy het ook opgetree in België, waar ‘Oberammergau’ die vyfde plek op die Brusselse treffersparade behaal.

1991: Sonja onvang ‘n Erkentlikheidstoekenning van die Afrikaanse Sakekamer van Pretoria vir haar uitsonderlike en ongeëwenaarde bydrae tot die bevordering en uitbouing van ligte Afrikaanse musiek. In 1995 teken sy ‘n kontrak met BMG-Records en in 1996 met Maranatha Records vir ‘n geestelike album, ‘More sal die Son weer Skyn’. ‘Skipskop’ is ‘n kompilasie-album van BMG wat in dié tyd baie goed verkoop as gevolg van die treffer titelsnit. 1998 ‘Ritsel in die Rietbos’ verskyn met Anton Goosen as produksieleier. In 1999 en 2000 werk sy saam met die produksieleiers en liedjieskrywers Carel Cronje en Cornell Boshoff aan haar album ‘Reconstructing Alice’ – ‘n baie persoonlike album waarin sy vir die eerste keer kan sing oor haar ervaringe van die lewe. Daarna finansier sy self ‘n album wat deur haar eie platemaatskappy ‘Son Musiek’ vrygestel word. ‘Sonjare’ is ‘n nostalgiese maar byderwets herverwerkte album van al haar ou treffers wat steeds baie goed verkoop.

2003: Sonja begin ‘n veldtog genaamd, ‘INCELEBRATION’, ‘n viering van vrouwees met die universiële boodskap van hoop. As deel van dié veldtog vervaardig sy ‘Verhale van Vrouwees’ tesame met ‘n program wat daarby aansluit, How to Shine like the Woman you Are. 2006: Sonja werl saam met haar vriend en liedjieskrywer, Carel Cronjé, aan haar biografie, SONJA meisie van Nigel, wat die lig sien in 2007. In 2008: Haar DVD opname van “Voetpad na Vrouwees” motiverings-program, word bekendgestel tesame met ‘n nuwe CD getiteld “She”. 2010: Sonja stel haar eerste kommersiële album in 10 jaar, “Pêrels”, bekend waarmee sy goue status bereik. In dieselfde jaar word Sonja vereer met ‘n lewenslange bydrae toekenning by beide Huisgenoot Skouspel en die Vonk Afrikaanse musiektoekennings. 2012: Terwyl Sonja steeds hoofsaaklik fokus op haar motiveringsprogramme, werk sy in aan ‘n kinder CD en DVD, “Sonja en Tjokker sing kinderliedjies”. Hierdie album en DVD word aan die begin van 2013 vrygestel en word in 2014 opgevolg met ‘n geestelike kinderalbum en DVD.

2019: Sonja stel ‘n enkelsnit, “Net vir jou”, bekend wat beskikbaar is as ‘n digitale-aflaai. Op 16 Oktober word Sonja vereer met ‘n lewenslange bydrae toekenning tydens Pretoria FM se Aitsa toekennings geleentheid. Met dié mondvol prestasies in ‘n blink loopbaan, kan konsertgangers uitsien na Net Vir Jou asook Oberammergau saam met Rina Hugo.

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*