Juan Boucher

Juan Boucher, die goueplaat-bekroonde sanger en liedjieskrywer het homself in ons volk se harte ingesing en sy rasperstem lei die melodieë wat ‘n boer op sy plaas neurie tot die jongmense naweek na naweek vashou aan die dansvloer erens in ons land. Sy albums sluit in Jy’s my Flavour, Gee jou hart ‘n Breek, Kalm voor die Storm, Dis wie ek is, Onthou jy om Jonk en Twaalf Rondtes. Juan glo om ‘n sanger te wees is nie ‘n keuse nie; dit word vir jou gegee deur genade en met dié uitkyk skryf hy treffer na treffer en trap sy bakkie die land se paaie plat om sy goedvoel musiek na die warm harte van sy aanhangers te neem.

Twaalf Rondtes is sy nuutste album en hy is seker dit laat sy aanhangers se harte warm klop. Baie van sy liedjies laat jou weer glo in die liefde, laat jou nadink en maak die langpad kort. Ander laat weer jou voete jeuk en kan jy nie anders as om dansbaan toe te gaan nie.

Konsertgangers by Vollebors in Afrikaans kan uitsien na Ons word een, Whiskey en jy, Deel jou droom met my en Gebore om by jou te wees.

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*