Richard Van Der Westhuizen

Dis vanjaar 40 jaar sedert die hoogs gerespekteerde sanger, liedjieskrywer, akteur en, meer onlangs, draaiboeksrywer, Richard van der Westhuizen, sy toetrede tot die Afrikaanse kunste gemaak het. Selfs meer as die aantal jare wat hy sy talente uitleef, is die mylpale wat hy al behaal het

Nog voordat Van der Westhuizen sy eerste solo-album Songs Uit My Binnesak in 2005 opgeneem het, was hy lank reeds, met kitaar in die hand, met musiek doenig. Hy het byvoorbeeld reeds in 1979 saam met Hennie Aucamp deur Namibië getoer met Die Lewe is ’n Grenshotel, ’n kabaretproduksie wat hulle self geskep het. Dit was egter eers in 1986 wat meer mense van Van der Westhuizen begin weet het. Dis in hierdie jaar wat hy die immergroen temalied van die gelyknamige TV-reeks Ballade vir ’n Enkeling geskryf, getoonset en gesing het. Hy het saam met Louis van Rensburg aan die klankbaan vir die twee reekse gewerk, en goue status behaal.

Ballade vir ’n Enkeling het vir Van der Westhuizen die weg gebaan vir ’n florerende sangloopbaan en vyf jaar later het die album Tussen Treine ’n metaforiese monument opgerig. Lochner de Kock het saam met hom aan dié album gewerk en dit het vinnig goud gegaan.

Die albums wat daarna gevolg het is Vuurklip (1998) en Dorsland (2001). Eers in 2011 was Van der Westhuizen se tweede solo-album Swerwerspoor vrygestel. “Wat kan ek sê, ek werk stadig, met ’n sagte hand,” het Richard geantwoord toe die mense gevra het waarom dit so lank geneem het. Hy’t ’n klomp nuwe liedjies geskryf. En baie interessant, is daar vir die eerste keer van die glas armonika gebruik gemaak – ’n instrument wat weinig in opnames gehoor word. Tydloos, ’n duetalbum saam met Gerhard Steyn, was in 2012 vrygestel. Die twee ikone het hul persoonlike gunstelinge van hul vroeëre liedjies op die album gesit.

Van der Westhuizen het ’n formidabele aanwins vir Afrikaanse musiek (en die Afrikaanse kunste in geheel) geword en is dit steeds. Hy skryf sy sukses aan ’n paar dinge toe. “In die eerste plek skryf ek dit toe aan die liedjies self. Van hulle moet toeganklik wees vir die gehoor, veral wanneer jy optree. Jy kan liedjies met meer diepte ook insluit, maar dis belangrik om ’n balans te handhaaf. Dit help ook natuurlik om ’n paar sogenaamde ‘treffers’ te hê. Daarbenewens moet jý as kunstenaar op en van die verhoog af, met mense kan meng, en hard werk om jou vertonings vir mense die moeite werd te maak. Jy moet hulle kan laat lag, en soms laat huil. Hulle moet voel dat hulle waarde vir hul geld kry,” het hy verduidelik.

Van der Westhuizen is gelukkig met die plek waar hy homself tans in sy sangloopbaan bevind. “Ek raak ouer, maar dit is steeds vir my ’n groot vreugde om op te tree. Ek kan nog sing en kitaar speel,” sê hy grappenderwys, “en ek het baie goeie musikante wat saam met my werk.”

1 Comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*