Jan Blohm

Jan Blohm, gewilde Afrikaanse liedjieskrywer, rock- en bluessanger, maak ook sy verskyning by Vollebors in Afrikaans.

Tussen 1998 en 2003 was hy lid van verskeie rockorkeste, by name Demigods, Ledd Eye en Duin 7. In 2002 het hy heeltyds sanger en klankingenieur geword. In 2003 het hy begin om as solo-kunstenaar op te tree en op Afrikaanse musiek te konsentreer. Dié gewilde sanger vermaak gehore al vanaf die intrapslag met sy debuutalbum, Melkstraat Confession, wat in 2004 verskyn het. In 2005 is hy te midde van sterk kompetisie met drie GMT-toekennings bekroon met Album van die Jaar. Breyten se brief is as liedjie van die jaar aangewys en Jan as “Beste nuweling”. (Sy naam is juis ‘n skuilnaam van Breyten Breytenbach, van wie hy ‘n groot bewonderaar is.)

Daarna het Jan sy loopbaan kaalvoet aangedurf met hoogte-en laagtepunte, maar staan vandag onoorwonne met die vlag in die hand op die spits van die berg as die koning van Rock.

In 2005 hou hy ook sy lyf akteur in die Afrikaanse kykNET-dramareeks, Dit wat stom is, nadat hy deur Frans Marx genader is om een van die hoofrolle te speel. Blohm het ook die titelmusiek, Dromer, vir die reeks geskryf en gekomponeer. Een van Jan se bekendse liedjies is Groen Trui en het verskyn op sy derde album met dieselfde titel. Die titelsnit was deel van die kykNET-reeks Orion se klankbaan.

By Vollebors in Afrikaans gaan Jan gehore bekoor met sy splinternuwe enkelsnit getiteld, Jenny. Dié nostalgiese lied behoort vele hartsnare te roer. Word Wakker en Groentrui maak deel uit van sy optrede.

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*