PIETMAN GELDENHUYS

Pietman Geldenhuys is ‘n man van vele talente. Hy is ‘n musikant, liedjieskrywer, komediant, akteur, Skotse persoonlikheid, man en vermaaklikheidskunstenaar. Hy staan ook bekend Pietman die Skot en Peter Mitchell.

Dié veelsydige kunstenaar is gebore in Prince Alfred’s Hamlet in die Boland. Van kleins af het hy ‘n liefde vir musiek en vermaak. Op 6-jarige ouderdom het hy vir die eerste keer as solis in die kerk gesing. Ná skool te Boland Landbou, het hy Engeland gaan verken vir bykans drie en ‘n half jaar. Daar het hy onder andere as trekkerdrywer, verkoopsman, kelner en straatmusikant sy brood verdien. Hier is hy op ‘n straathoek raakgesien deur ‘n plaaslike musikant, wat hom genooi het om saam met hom op te tree. Daarna het hy begin floreer as musikant in eie reg. Hy het vir byna ‘n jaar en ‘n half voltyds in kroeë, restaurante en al wat watergat is opgetree regoor Engeland.

Toe sy visum uiteindelik verval en hy moes terugkeer huistoe, het hy sy passie verder kom uitleef deur aan City Varsity te studeer as omroeper en akteur vir beide televisie en die verhoog. Tussendeur sy opleiding het hy aanhou musiek maak by verskeie geleenthede en funksies. Hy het ook begin om sy alter ego, die Skotsman, te ontwikkel as deel van sy repertoire. By een só funksie is hy raakgesien deur die rocker Valiant Swart wat hom genooi het om saam met sy groep te toer. Nadat hy vir Ollie Viljoen ontmoet het, het dié twee vir etlike jare daarna saam opgetree in sy verskeie gedaantes onder andere as Skotsman, musikant en storieverteller.

Pietman was deur die jare nouliks betrokke by verskeie produksies wat wissel van optredes by ‘Afrikaans is Groot’ tot “Oppiekopp”’, “Noot vir Noot” tot “Musiek Roulette”. Hy is ook dikwels te sien in die produksie “Die Boer en Skot”’ saam met Bok van Blerk en Ricus Nel. Hy hou graag sy lyf akteur in enige iets van films, soos “Die rebellie van Lafras Verwey” en tot verhoogstukke soos “Renier Grootlieg De Winnar” saam met Chris van Niekerk. Hy skryf liedjies vir onder meer Bok van Blerk, Ricus Nel, Hugo, Andries Vermeulen en Wicus van der Merwe. Meer onlangs het Pietman en Andries Vermeulen saam met André Calitz van Blixem Productions gespan vir die maak van die TV reeks ”Oppiestoep” waarvan hy een van die aanbieders is. Hy het groot aanhang verwerf met die skotse lied “Flower of Scotland” op die televisie program “Toks ‘n Tjops” en die lied is ook opgeneem op sy album ‘Hamlet by Night’. Sy album ‘YOU AND I’ asook die storiealbum “Die ding van ‘n storie”, is in 2017 vrygestel. In November 2018, ná twee suksesvolle Engelse albums, het Pietman sy eerste Afrikaanse album “Van die os op die jas” bekendgestel. Pietman het al twaalf liedjies op die album self geskryf en het dit saam met die musikante Mauritz Lotz, Schalk Joubert, Kevin Gibson en Melissa van der Spuy, by Sunset Recording Studios in Stellenbosch opgeneem. Met dié album wys hy dat hy ligsinnig, ernstig, romanties en sosiaal met verskillende temas kan omgaan. In 2019 wen Pietman Geldenhuys ‘n Ghoema Musiektoekenning vir Beste Liedjieskrywer.

Meer oor Peter Mitchell….

Peter Mitchell (aka Pietman die Skot) klim in sy Skotse persona asook sy Skotse “kilt” en neem die gehoor saam met hom op sy reis vanaf Skotland, deur verskeie lande, tot waar hy hom tans in Suid-Afrika bevind. Hy beeld sy reis uit met die kombinasie van musiek en komiese verhale. Die musiek sluit in sy eie komposisies, bekende en geliefde Skotse liede soos “Flower of Scotland” en “Loch Lomond” asook verwerkte liedjies soos “Loslappie” en “Ou Ryperd”, gesing uit die mond van ‘n Skot. Hy verras die gehoor ook met skreeusnaakse stories (uit volksbesit en eie ervarings), improvisasie van bekende Suid-Afrikaanse karakters (Tolla van der Merwe, Nico Nel, Arno van Zyl, ens) (soos gesien op Kyknet se Oppiestoep) en ook liedjies wat hy op die ingewing van die oomblik net daar voor die gehoor se oë komponeer en toonset, met gebruik van die gehoor se voorstelle en woorde.

Die manier waarop Pietman op sy voete dink en die gehoor oorrompel met sy spitsvondighede maak hom eie in sy soort. Hy het dit reggekry om die perfekte balans te vind tussen ligte humor, skaterlag vermaak, geliefde liedjies en die erns in sy eie musiek.

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*