Steffie Le Roux

Steffie Le Roux, ‘n meisie van die Klein Karoo, se debuutalbum, Vertel my, is in 2016 vrygestel en lê haar baie na aan die hart. Haar sang en musiekmakery kom al van kleintyd af, alhoewel sy voel sy is eerstens ʼn storieverteller wat eenvoud verkies. Een ding is seker: sy beskik oor ʼn towerstem wat rooiwynlekker is om na te luister.

Wat Vertel my so besonders maak vanuit ʼn produksie-oogpunt, meen die Kaapse vervaardigers Carel Cronje en Cornell Boshoff van die Carnell Collective, is die absolute eerlikheid wat op die album vasgevang is. Steffie lê haar hart met beide onverwagse en ongekende gemak bloot wanneer sy deur haar musiek met jou gesels. Daar is ʼn onopgesmuktheid en ʼn broosheid teenwoordig wat ‘n mens deesdae bittermin in die musiekbedryf raakloop. Vars en kontemporêr, dog tydloos is die klank wat Steffie en haar produksiespan op die album wou vestig; eenvoud en grootsheid terselfdertyd. Hoewel sy sélf ʼn knap liedjieskrywer is, het sy ook ander se woorde knus in haar eie wysies toegedraai.

Werke van bekende liriekskrywers soos Cas de Villiers, Chris Torr en Albert Short het vasskopplek op die album gevind. Cas se gedigte Vertel My, Die Skoonste Dinge, Towerson en Êrens in die nêrens is getoonset. Chris Torr het die lirieke vir Winterjas en Reëndruppels bygedra. Albert Short het Steffie by ‘n liedjieskryfkurses ontmoet wat deur Chris Torr aangebied is; Marmer oë, Sterre Voorspel en Amper is vrugte van dié samewerking. Steffie is vir die skryf van Oudtshoorn, Blomme oor die Water en As ons oë ten volle verantwoordelik – en elk het ʼn heerlike storie te vertel!

Vertel my se songs het almal oorwurms in; hulle bly draai, en draai, en draai in ʼn mens se kop lank ná jy klaar geluister is. Dis ʼn merkwaardige album wat elke liefhebber van Afrikaanse musiek lank sal bybly.

Steffie werk vanjaar aan ‘n nuwe album en dis ‘n opwindende projek met lekker nuwe materiaal.

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*