Refentse

Refentse Morake is ontdek as 17-jarige toe hy op die sypaadjie van sy ouerhuis in Unitaspark, ‘n voorstad van Vereeniging, opgemerk is terwyl hy kitaar gespeel en gesing het. ‘n Dame – Cecilia Marchionna, of Tannie Kleintjie, soos sy meer bekend is, het hom gehoor. Sy het hom genader en gevra of sy ‘n video van hom mag opneem en die video op haar Facebook mag sit. Hy het ingestem en gedink die “tannie” het waarskynlik net ‘n paar Facebook-vriende, maar dit was ‘n groot onderskatting. Die Facebook video het met 30 000 beskouings op die eerste dag die hoogte ingeskiet, tot 160 000 vier dae later en aanhou groei. In April 2015 het hy in Baron van Reedestraat in Oudtshoorn in die straat opgetree, toe sy gunsteling sanger, Karen Zoid, verbygekom en vir hom R10 ter waardering vir sy poging gegee het. Daardie aand het organiseerders by die KKNK hom agter die skerms van die fees se openingskonsert geneem, waar hy verskeie musieksterre, insluitend Karen Zoid ontmoet het en ‘n musiekkontrak aangebied is. In 2016 het Refentse sy debuutalbum, My Hart Bly in ‘n Taal, vrygestel en in 2017 sien sy tweede album, Deur My Venster, die lig. Sy derde album, Liefdegenerasie, is verlede jaar vrygestel.

Refentse was in ‘n Afrikaanse skool, is blootgestel aan Afrikaanse musiek en het daarvan gehou en altyd saamgesing. Sodoende het hy ook begin om Afrikaanse liedjies op sy kitaar te speel. Hy voel musiek is die één manier, ongeag van ras of geslag, om mense te verenig, in ‘n land waar daar soveel probleme is wat tot verdeeldheid lei. Op sy albums voer hy met gemak ou geliefde Afrikaanse liedjies soos Sonvanger, Ou Ryperd, Blommetjie Gedenk Aan My, Pampoen, Sally Williams Nougat en Halala Afrika uit.

In 2017 is Refentse vereer met vier Ghoema-trofees vir sy album My hart bly ‘n taal. Hy het weggestap met toekennings vir Album van die Jaar, Manlike Kunstenaar van die Jaar, Digitale Album van die Jaar en ‘n Ere-toekenning vir Beste Verkoper.

Op Liefdesgenerasie, sy nuwe twaalf-snit album, delf hy dieper as ooit om ‘n ryke en eiesoortige musikale skat te ontgin – iets wat, in die saamsmee van poëtiese liriek en musiek wat dit nie deur norme laat voorskryf nie, ‘n ander sy van hierdie merkwaardige jong talent se karakter na vore laat tree. Die album skakel moeiteloos tussen meer akoestiese en vol orkes oomblikke, met ‘n verskeidenheid genres wat daarby ingeweef is – kontemporêre en alternatiewe elemente, rock, reggae en selfs ‘n tikkie kletsrym wat die volle omvang van Refentse se vokale vernuf ten toon stel en soos ‘n splinternuwe, pasgemaakte baadjie aan hom sit. Daar is eersteklas instrumentale verwerkings met klavier, kitaar, bas, trom, trekklavier, saksofoon, viool en klankeffekte wat nie huiwer om ongekarteerde gebiede te verken en nuwe klanke te skep nie.

Vollebors

Refentse en Dozi sing Umlando Ka Mfundisi en daar is ‘n colab saam met Henning Joubert, Oom Faan se Plaas. Hy sal ook Liefdesgenerasie vanaf sy nuwe album sing.

 

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*