Stef Kruger

“Ek hou dit eenvoudig en rustig, eerlik en opreg en met ‘n eie identiteit,” sê die veteraan-liedjieskrywer-sanger, Stef Kruger. “Elke liedjie het sy eie karakter en is soos my kinders. Jy het nie gunstelinge nie. Elkeen word met liefde en sorg gebore.
Vir dié woordsmid, wat al oor die 400 trefferliedjies geskryf het, is die kuns van liedjieskryf veel meer is as net digterskap, want ’n liedjieskrywer moet ook musiek kan skryf. Stef doen dit moeiteloos. “Ek het nog nooit inspirasie nodig gehad nie.

Gelukkig gebeur die liedjies maar net vir my. Ek sien ‘n maan opkom oor die see en die liedjie is gebore. Ek hoef nie te gaan sit en myself te dwing om te skryf nie. Of ek word wakker met ‘n melodie, dan kom die woorde. Dit is vir my soos om asem te haal. Dit moet net gebeur. Ek kan nie daarsonder nie.”

Stef is ‘n musikant in eie reg en vaardig met kitaar, tromme en dwarsfluit. Hy is in voeling met sy en omgewing en die natuur, met sy innerlike en die mens se strewe na volkome vervulling. Hiermee verf hy oorspronklike klankportrette wat diep in emosies delf.

Die klankprentjies op die album is: Alewig op reis, Dit is ook maar hier, Bietjie brood, Ek wil net vir jou sê, Dis net woorde, My blom, Eenkeer, Foto, Mof, Reën, Gister en vandag, Weer begin en Weggooikind.

Stef het verskeie pryse vir sy werk ontvang, waaronder Vonk-Musiek se toekenning as beste liedjieskrywer van die jaar én Die Orde van die Goue Pen, ‘n toekenning vir buitengewone bydrae tot die bevordering van Afrikaans in 2012. Verskeie van sy liedjies is ook in die nuwe FAK-sangbundel opgeneem.

Luister na Stef Kruger en bederf jouself met die suiwer kuns van die woord.

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*