Henning Joubert

Elkeen begin sy eie droom op ‘n ander plek en manier. Van sangers tot boere. Respektiewelik sou die een op die ouderdom van twaalf al sy eerste optrede op konsertina voor ‘n gehoor gehad het en die ander dalk sy eie paar lammers bottelmelk gegee het, maar beide se drome word waar. Waar die een vandag gehore landwyd aan die gons het en die ander baas van sy eie plaas is…

In dié geval met Henning kruis die fisies met die metafoor, want ja, hierdie man kom ‘n lang pad en sing die land aan die brand – en het pas gewys hy’s nou ook die baas van SPOOKFONTEIN.

Dalk het jy nog nie sy náám gehoor nie, maar jy het hóm beslis al gehoor! Hierdie jongman, by wie talent oorloop soos vol damme na ‘n reën, het al as musikant opgetree vir groot name soos Bok van Blerk, Dozi, Robbie Wessels, Theuns Jordaan, Juanita du Plessis en nog almal tussen-in. Ook as sessiemusikant vir van die sandduine by Anton Goosen tot die blink liggies van die Kaapstad se Philharmoniese-orkes.

2010 besluit Henning om baas van sy eie plaas, Spookfontein te word en reik ‘n album uit wat gepak is soos ‘n spog wildsplaas met al die mooi om jou. Hy’t omtrent al die liedjies self geskryf wat gaan maak dat hy in jou hart kruip. Maar wat dit nog meer indrukwekkend maak is die feit dat hy self ook meeste van die instrumente bespeel het. Dit sluit in van die banjo, dromme, kitare tot die mondfluitjie!

Laat Henning Joubert jou nooi en bederf met ‘n stukkie hemel op sy plaas wanneer jy luister na Spookfontein. ‘n Rustige atmosfeer van sterk verwerkings; klanke en lirieke met vleis om die been – perfek vir wanneer die son gaan wegkruip en die vure brand hoog in die nag.

Blink, geel vlamme wat opgewonde spring, juig en knetter uit ‘n houtvuur – onbeheerbaar, nes hierdie man se talent!

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*