Vollebors In Afrikaans – 23 Mei 2020

Vollebors in Afrikaans is ‘n splinternuwe produksie aangebied deur VONK Musiek en Entertainment & Event Factory.  Dié tsunami van musikale talent vind plaas op 23 Mei 2020 by die Sun Arena, Time Square Casino, Pretoria. Dit gaan ‘n tsunami van Afrikaanse talent op een verhoog wees met meer as dertig kunstenaars wat hul beste werke in ‘n musiek gedrewe musikale opvoering gaan lewer. Dit op sigself is genoeg om hoendervleis oomblikke te beloof.

Maak jou reg vir ʼn legendariese musiekreis van oorspronklike Afrikaanse musiek, huidige sowel as nostalgiese treffers, alles op een verhoog. Vollebors in Afrikaans beloof ‘n belewenis van oorspronklike Afrikaanse musiek, opgevoer deur die oorspronklike kunstenaars. Daar wag ook optredes deur nuwe kunstenaars met nuwe treffers. Hierdie geleentheid beloof om die gehoor terug te neem in tyd en vir ‘n oomblik die horlosie te laat stilstaan terwyl nuwe herinneringe gekweek word met nuwe treffers. Talle optredes sal deur talentvolle plaaslike kunstenaars op internasionale vlak gelewer word, wie se bekers oorloop van musikale talente. Baie van die sangers is kunstenaars in murg en been en word die blootstelling gegun om dit ten toon te stel. Meeste van die kunstenaars is liedjieskrywers en sangers, sommige is ook bedrewe digters en ander kan selfs toor met ‘n verfkwas.

Met VONK Musiek en Entertainment & Event Factory kry dié oorspronklike musikale produksie vlerke en beloof dit om ‘n uitstekende produksie te wees. Met Vollebors in Afrikaans kry ware Afrikaanse kunstenaars die erkende blootstelling en word die behoefte aan nostalgie, kuns, liedjieskrywers en sangers in ‘n musikaal gedrewe produksie vervat. Dié leemte in die mark is deur ‘n behoeftebepaling vasgestel en die vervaardigers hoop om die behoefte aan kunste in ons land met dié produksie te vul en konsertgangers mee te sleur.

Vollebors in Afrikaans gaan ou treffers soos rou diamante blinkvryf en dit gaan soos ouds gesing word deur die oorspronklike kunstenaars. Sangers en liedjieskrywers wat die musikale landskap van Afrikaanse musiek verander het. Dink maar aan sangers wat ‘n groot impak op die musiekfront gemaak het en steeds doen. Anton Goosen is een van die gaste en met 19 liedjies in die FAK sangbundel gaan hy self die oorspronklike nommers sing. Anton en Sonja Heroldt het vir die eerste keer in baie jare saamgesing by die Woordfees ‘n paar maande gelede. Wees verseker dat dié twee geliefde Afrikaanse sangers vir ‘n verrassing gaan sorg wanneer hulle weereens saam op die verhoog is. Richard van der Westhuizen en Gerhard Steyn gaan Ballade vir ‘n Enkeling doen en jou terugneem na jare gelede. Gian Groen gaan sy immergewilde, oorspronklike Vier Seisoene Kind sing. Dié treffer sal sekerlik ‘n hoogtepunt wees van Vollebors in Afrikaans en ‘n danksegging aan ondersteuners wat dié lied die mees gedekte lied in Afrikaans gemaak het.

Verskeie keurspelle en samewerkings gaan plaasvind tussen kunstenaars wat saam werke uitvoer en natuurlik soos met enige konsert, wag daar beslis ‘n paar heerlike verrassings op konsertgangers.

Kunstenaars wat optree by Vollebors in Afrikaans sluit in:

  • Juan Boucher
  • Jan Blohm
  • Gerhard Steyn
  • Herman Kleynhans
  • Dozi
  • Refentse
  • Tarryn Lamb
  • Gian Groen
  • Steffie le Roux
  • Wynand & Cheree Strydom
  • Jakkie Louw
  • Con Grazia
  • Anton Goosen
  • Sonja Heroldt
  • Richard van der Westhuizen
  • Pietman Geldenhuys
  • Rina Hugo
  • Ray Dylan
  • Stef Kruger
  • en nog vele meer!

Kom bederf jouself gerus met ‘n heerlike musikale aandjie uit met melodieë van toeka wat nuut afgestof gaan word. Dit is ook ‘n geleentheid waar nuwe kunstenaars met hul treffers uitgestal word, so wees seker dat daar ‘n hele paar verrassings op konsertgangers wag. Moet beslis nie hierdie uitstekende-waarde-vir-geld-produksie misloop nie! Hou gerus sosiale media platforms dop vir meer inligting oor Vollebors in Afrikaans. Kaartjies is vanaf 08:00 komende Dinsdag, 17 Desember, aanlyn by https://itickets.co.za beskikbaar.

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*